Ons
Storie

Die Begin

Die spreekwoordelike “meet-cute” sou nooit gebeur het as Marnes nie ’n professionele student was nie, en Bernadine nie grootgemaak is as ’n selfstandige doen-dit-self jong dame nie.

Die storie, soos dit al baie oorvertel is, het baie weergawes en opinies, maar die opgesomde weergawe is soos volg:

Marnes, in sy studiestryd, het by Chamberlains gaan werk vir al die regte redes. Op hierdie buitengewone dag — die dag ná die Lentedag-fees wat hy voluit gaan bywoon het — is Bernadine, haar pa se oogappel, Chamberlains toe gestuur vir een van hulle DIY-projekte, om iets te koop waarvan sy nie veel weet nie.

Op soek na hulp sien sy toe ’n jong man aan die ander kant van die winkel. Hy was só aantreklik dat Bernadine besluit het sy gaan hom vra vir hulp — min wetende dat Marnes nóg minder van die spesifieke items weet as sy. Met haar pa op die foon stap sy reguit na hom toe… maar Marnes probeer haar vermy. Soos sy in een ry afstap, glip hy vinnig in ’n ander in. Hy was vas oortuig hy móés haar systap, want hierdie mooi dame kon enige oomblik iets vra wat hy glad nie sou kon beantwoord nie. Boonop moes hy die dag ná Lentedag met ’n brandwond op sy gesig by die werk opdaag (’n storie vir ’n ander dag). Sy selfvertroue én sy voorkoms was op ’n laagtepunt.

Maar toe draai hy in ’n gang… en loop neus-teen-neus in Bernadine vas.

Sy druk die foon in sy hand en vra dat hy met haar pa praat. Marnes roep benoud sy vriend nader — die een wat wél in daardie afdeling werk — om te help. Tot sy verbasing slaag hy daarin om nie soos ’n totale brood te lyk nie, én hy kry boonop die kans om met hierdie pragtige jong dame te gesels. Hulle praat lank, maar uiteindelik moet hy terugkeer na die deel van die winkel waar hy eintlik moes wees.

Heel toevallig moes Bernadine nog items koop… in presies die afdeling waar Marnes wél moes wees. Hy help haar dadelik en hulle gesels weer heerlik. Maar Marnes was vasgevang in ’n dilemma: werknemers mag nie “aanlê” by klante of name vra nie.

Gelukkig vir albei van hulle was Marnes se naam op sy werkshemp, en het sy ouers sy naam só bymekaar gesit dat dit uniek is in spelling. Hy is daardie dag huistoe met groot hoop in sy hart dat hy die dame weer sou sien.

Gelukkig kon Bernadine lees en kon sy sy naam onthou, want dieselfde middag het Marnes se foon ’n geluid gemaak. Met groot hoop maak hy sy foon oop… en sy blydskap skiet deur die dak. Dit was wraggies die dame van die winkel wat hom op sosiale media opgespoor het en vir hom ’n vriendelike poke gegee het in die vorm van ’n foto wat ge-“like” is.

Marnes het dadelik geweet dit is noodlot. Hy boodskap haar, en albei het daardie gevoel gehad van: “Hierdie is iets anders.” Hulle praat vir ’n maand of twee oor die foon.

’n Paar maande gaan verby waarin hulle nie praat nie — moeilike maande vir altwee. Maar dit moes so bestem gewees het, want op ’n dag is Bernadine saam met haar pa op Marnes se gunsteling gholfbaan, en sy moes hom kontak om hom te vertel. Net daar het die gevoelens weer vlam gevat.

Die vonk slaan oor

Op Marnes se verjaardag het dinge verander. Hy kuier by die huis; Bernadine is saam haar boetie by ’n kuierplek en nooi hom daarheen. Marnes moes sy langste tjommie oortuig — lankste in jare én lankste in lengte — om saam te gaan sodat hy vir Bernadine daar kon kry.

Toe hy uiteindelik by die kuierplek aankom, het Bernadine en haar groep al gery. Sy besluit egter op die ingewing van die oomblik om om te draai en terug te gaan — net daar by Padstal was die koeël deur die kerk… of eerder deur die Padstal.

Van toe af praat hulle onophoudelik.

Die troue en die pandemie

Marnes is toe na sy vriend (sy Best Man) se troue genooi met ’n plus-een. Bizar genoeg was Bernadine nie oorspronklik die plus-een nie. Die oorspronklike plus een het ’n week voor die troue gekanselleer… en enter Bernadine as die bomb squad. Sy wen die wedstryd met meer as één punt. Die troue was ’n reuse sukses — nie net vir die bruidspaar nie, maar vir die fondasie van ’n nuwe verhouding.

Toe slaan die groot pandemie toe. Marnes en Bernadine se lewe verander vir altyd op twee maniere: deur liefde én deur inperking.

Die pandemie het veroorsaak dat hulle onwettig moes optree om hulle eerste amptelike afspraak te laat gebeur. Soortgelyk aan die realiteitsreeks Boer Soek ’n Vrou was die spoedafspraak by Chamberlains gewees; die 2de rondte was om die troue saam by te woon; en daarna was dit waar Marnes vir Bernadine gekies het (of sy hom) om op die “plaas” in 8ste Straat, Menlo Park onwettiglik te kom kuier vir die hele naweek. Die twee kon nie genoeg van mekaar kry nie, so het hulle by Bernadine se ouerhuis ook ’n naweek deurgebring. Marnes het daar vir die eerste keer te doen gekry met sy toekomstige skoonouers vir ’n hele naweek (nog ’n storie vir ’n ander dag). Hy kan wel bevestig dat Bernadine se ouers hom behoorlik getoets het daardie naweek.

Die reis gaan voort

Die oor-en-weer kuier het só intens geword dat mense begin vra het of Bernadine regtig bestaan. Marnes moes selfs via video bewys dat sy wel bestaan en dat hy by háár kuier.

Van daar af het alles net van krag tot krag gegaan. Toe die tyd aanbreek om dit amptelik te maak, het Bernadine dit nie maklik gemaak nie — maar op die ou einde het sy ingestem.

Hulle het mooi in mekaar se lewens en vriendekringe geïntegreer.

Die groot vraag

Na vier jaar was dit tyd vir die groot vraag — vir Marnes een van sy maklikste maar tog stressvolste vrae, en vir Bernadine een van haar maklikste en lekkerste “Ja’s”.

Die avontuur gaan voort

Die storie is nog lank nie klaar nie. Die tyd is hier om ’n nuwe hoofstuk te begin. Marnes en Bernadine vier dit graag saam met julle almal — met ’n groot makietie troue.

Laat die toekoms blom!

RSVP